2 Kings 14
1 In die tweede regeringsjaar van Joas, seun van Joagas, die koning van Israel, het Amasia, seun van Jehoas, die koning van Juda geword.
2 Hy was vyf-en-twintig jaar oud toe hy koning geword het, en hy het nege-en-twintig jaar lank as koning geheers in Jerusalem. Sy moeder se naam was Jehoaddan, uit Jerusalem.
3 Hy het gedoen wat reg is in die oë van die Here, maar nie soos sy voorvader Dawid nie. Hy het opgetree net soos sy vader Jehoas opgetree het –
4 net die offerhoogtes is nie verwyder nie. Die volk het nog steeds geslag en offers verbrand by die offerhoogtes.
5 Pas nadat hy die koningskap stewig in sy hand gehad het, het hy sy amptenare tereggestel – dié wat sy vader, die koning, vermoor het.
6 Die moordenaars se kinders het hy egter nie laat doodmaak nie, soos geskryf is in die •boekrol met die Wet van Moses, waar die Here beveel: “Ouers mag nie doodgemaak word oor kinders nie, en kinders mag nie doodgemaak word oor ouers nie; maar elkeen moet vir sy eie sonde sterf.”
7 Hy is die een wat tienduisend Edomiete in die Soutvallei verslaan het. Hy het Sela in die geveg verower, en dit die naam Jokteël gegee, soos dit vandag nog is.
8 In dié tyd het Amasia boodskappers na Joas, seun van Joagas, seun van Jehu, die koning van Israel, gestuur om vir hom te sê: “Kom ons kyk mekaar in die oë. ”
9 Maar Joas, koning van Israel, het vir Amasia, koning van Juda, laat weet: “Die sydissel wat op die Libanon is, het vir die seder wat op die Libanon is, laat weet, ‘Gee jou dogter aan my seun as vrou.’ Die wilde diere wat op die Libanon is, het egter verbygegaan en die sydissel vertrap.
10 Jy het inderdaad die Edomiete 'n nederlaag toegedien, en jou hart is opgetoë. Geniet die eer en bly tuis! Waarom wil jy jouself in die ongeluk dompel en tot 'n val kom, jy en Juda saam met jou?”
11 Amasia het egter nie geluister nie. Joas, koning van Israel, trek toe op en hy en Amasia, koning van Juda, het mekaar in die oë gekyk by Bet-Semes, wat aan Juda behoort.
12 Maar Juda is voor Israel verslaan, en hulle het gevlug, elkeen na sy tente toe.
13 Joas, koning van Israel, het Amasia, seun van Jehoas, seun van Ahasia, koning van Juda, in Bet-Semes gevange geneem. Joas het Jerusalem binnegegaan en die stadsmuur van Jerusalem afgebreek, van die Efraimspoort tot by die Hoekpoort – vierhonderd el.
14 Hy het al die goud en silwer geneem, en al die voorwerpe wat in die huis van die Here en in die skatkamers van die koninklike paleis te vinde was, saam met gyselaars, en na Samaria teruggekeer.
15 Die verdere geskiedenis van Joas, alles wat hy gedoen het, en sy magtige dade, hoe hy teen Amasia, die koning van Juda oorlog gevoer het, is dit nie opgeteken in die boekrol met die kronieke van die konings van Israel nie?
16 Joas het by sy voorouers gaan rus, en hy is in Samaria begrawe by die konings van Israel. Jerobeam, sy seun, het in sy plek koning geword.
17 Amasia, seun van Jehoas, koning van Juda, het ná die dood van Joas, seun van Joagas, koning van Israel, nog vyftien jaar lank geleef.
18 Die verdere geskiedenis van Amasia, is dit nie opgeteken in die boekrol met die kronieke van die konings van Juda nie?
19 Toe daar in Jerusalem 'n komplot teen hom gesmee is, het hy na Lagis gevlug. Maar hulle het manne agter hom aan gestuur na Lagis, en dié het hom daar doodgemaak.
20 Hulle het hom op perde vervoer, en hy is in Jerusalem begrawe by sy voorouers in die •Stad van Dawid.
21 Die hele bevolking van Juda het toe vir Asarja geneem – hy was sestien jaar oud – en hom koning gemaak in die plek van sy vader Amasia.
22 Hy is die een wat Elat herbou en teruggebring het onder Juda se beheer, nadat die koning by sy voorouers gaan rus het.
23 In die vyftiende regeringsjaar van Amasia, seun van Jehoas, die koning van Juda, het Jerobeam, seun van Joas, die koning van Israel, in Samaria koning geword, een-en-veertig jaar lank.
24 Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Hy het nie afgewyk van al die sondes van Jerobeam, seun van Nebat, waarmee hy Israel laat sondig het nie.
25 Hy is die een wat die gebied van Israel herstel het, van Lebo-Hamat af tot by die See van die Araba, volgens die woord van die Here, die God van Israel, wat Hy gespreek het by monde van sy dienskneg Jona, seun van Amittai, die profeet wat uit Gat-Gefer gekom het.
26 Die Here het immers gesien dat die ellende van Israel baie bitter was. Dit was klaarpraat met wie gevange geneem is en wie vrygelaat is; en daar was geen helper vir Israel nie.
27 Die Here het nie te kenne gegee dat Hy Israel se naam onder die hemel sou uitwis nie, en Hy het hulle verlos deur die hand van Jerobeam, seun van Joas.
28 Die verdere geskiedenis van Jerobeam, alles wat hy gedoen het, en sy magtige dade, hoe hy oorlog gevoer het, en hoe hy Damaskus en Hamat, wat vroeër aan Juda onderdanig was, weer onder beheer van Israel gebring het. Is dit nie opgeteken in die boekrol met die kronieke van die konings van Israel nie?
29 Jerobeam het by sy voorouers gaan rus, by die konings van Israel. Sagaria, sy seun, het in sy plek koning geword.